Die vark in die verhaal
Elke
jaar die tyd roep die Feëkoningin mos al die nuwe feetjies bymekaar. Almal buig
diep en gaan sit en sy maak haar keel skoon, “Welkom hier vandag in die paleis
liewe feetjiemaatjies. Soos julle weet, leer ons vanjaar om rêrige feetjies te
wees sodat ons alles om ons mooi kan maak.”
Sy
kyk op en af en sê toe, “Vir nou gaan ons by die diere leer en elkene sal vir
haar ʼn dier gaan uitsoek met wie jy dinge gaan leer. Hoe om boom te klim, hoe
om weg te kruip en waar om lekker kossies te gaan soek. Toe weg is julle!”
Sannie se koppie dwaal mos en sy hoor weer
net die helfte. Die ander feetjies vlieg op om die oulikste diertjies eerste op
te eis. Normatjie natuurlik die koala. Terwyl kort op haar hakke Ingridjie, wat
met haar armpies om die steenbokkie staan. Die eekhoringkies, koedoetjies en
baba leeutjies almal opge-eis en toe Sannie wakker skrik, wat bly oor?
Net Borra ... ai toggie net nie dit nie,
die lelikste diertjie in die hele woud ...
Sannie is nou met hom opgeskeep en sy is
sommer vies vir alles. Die ou kan nie eens praat nie, hy snork mos net!
Hoe ook al, sy en Borra stap toe maar daardie
dag in die woud toe die vreeslikste ding gebeur. ʼn Groot gat val in die grond
onder hulle en daar val Sannie en Borra!
“Helllppp, helllp” gil hulle. Haar vlerkie
breek af en sy kan nie eens vlieg nie. Maatjies, wat dan nou?
Gelukkig is daar onder ʼn klomp blare en
hulle val darem nie te seer nie. “Borra! Borraa! Praat met my!”
“Ughhh!” snork die lelike outjie net.
“Wat nou Borra? Wat gaan van ons word?”
Borra skud sy dik koppie ʼn paar keer en
kyk lank en diep na Sannie, “Liewe Sannie, jy was al een wat vir my omgegee
het, ek sal na jou kyk, moenie bang wees nie. Ons gaan vandag hier uit kom ek
belowe jou, afvlerkie of te nie!”
Maatjies julle sal my nou nie glo nie,
Borra, met daai lelike tande langs sy mond en al, begin ʼn tonnel grawe! “Kom
Sannie!”
Hy grou en grou en grou en die arme Sannie
kruip in die donker gat, alles vol modder, agter hom aan.
Dit voel soos ure en toe, “Borra! Kyk
daar, daar is ʼn lig aan die einde van die tonnel!”
En daar, ek weet julle sal my nou nie glo
nie, grawe Borra sy tonnel en hulle klim reg voor die paleis op die koningin se
grasperk uit!
Die
seremoniemonster, ou Dracus, blaas sulke vuurtonge deur sy neus en staan op. “U
majesteit, liewe feetjies en diere maatjies. Welkom by ons jaarlikse goue
ketting oorhandiging."
Die feëkoningin stap op, haar lang purper
rok te mooi en in haar hande die groot goue ketting. Norma met Koos die Koala
en Ingrid met Sarel die steenbokkie maak hul reg vir die groot oomblik ... maar
ooo neee ...
“Ons toekenning vir dapperheid en die een
wie mooiste dinge vir ʼn nuwe feetjie geleer het gaan vanjaar aan ... sit julle vlerkies en pootjies bymekaar
vir ..."
Sy
bly lank stil en toe ... “vir BORRA die vlakvarkie!”
Opmerkings
Plaas 'n opmerking