Plasings

Wys tans plasings vanaf Augustus, 2022

Gamtosie se weerwraak

Prent
Gamtosie word wakker. “Nou watse lawaai is dit nou weer?” Hy skud sy koppie, en glo nie wat hy hoor nie. Net ʼn spul bobbejane kan so te kere gaan! Hier by ons dammetjie nogal. Aggenee!!! Dis altyd alles so lekker hier, te klein vir ʼn aaklige krokodil, en groot genoeg vir vissies om mee te speel. Fibius die seekoei kom soms kuier en hy is almal se vriend. En nou dit! “Boggom!!” brul dit weer in die verte. “Ag nee, hulle kom al nader, wat nou?” Die takke kraak en die bome skud, maar hier kom hulle. Vooraan is oom Adoons, en kort agter hom tannie Keesje met ou Kaas Windvogel langs haar. Hulle loop hande viervoet, en ander weer penorent soos ons eende. “Wat nou?” dink Gamtosie bang. Die spul kom staan by die dammetjie, met hul sterte ver agter uit, drink te heerlik. Hulle trap sommer op Gamtosie se slaapplek, ag nee man! “Sies julle spul bobbejane,” dink die outjie, “ek moet hulle ʼn les leer, maar hoe?” Al die ander eendjies is weg om kos te gaan haal, en daar is niema...

Eendjies stap in ʼn ry

Prent
  Die voëltjies vlieg laag vandag … “Snaaks? Hoekom? Wat weet hulle wat ek nie van hier onder kan sien nie?” dink Gamtosie terwyl sy heen en weer heerlik oor die water dryf. “Narus!" roep sy vir haar ou vriendjie. Narus vlieg laer en met ʼn gefladder soos net mossies kan doen en kom land hy op die ou stok wat in die water dryf. ”Hallo Gamtosie! Hoe gaan dit met jou?” “Nee lekker man, ek hoef tog nie heen en weer te vlieg en kos soek soos julle dom outjies nie!” “Ag man hou jou bekkie! As ek sulke webbe tussen my tone gehad het sou ek my dood geskaam het!” “Ag issie man, jy is net jaloers! Het jy al vir oom Sygnus Swaan gesien? Hy is tog die mooiste dier op aarde en kyk hoe lyk sy voete!” “Gamtosie, julle eendjies dink mos julle is beter as ons,” en hy klap sy vlerkies en styg op, maak ʼn wilde draai en reg oor Gamtosie toe doen hy dit … maatjies moenie vir mamma vertel nie want dis vreeslik wat hy doen, hy het ge-tjorts! “Sies man!” Gamtosie duik diep in die water ...

Die vark in die verhaal

Prent
  Hallo maatjies! Elke jaar die tyd roep die Feëkoningin mos al die nuwe feetjies bymekaar. Almal buig diep en gaan sit en sy maak haar keel skoon, “Welkom hier vandag in die paleis liewe feetjiemaatjies. Soos julle weet, leer ons vanjaar om rêrige feetjies te wees sodat ons alles om ons mooi kan maak.” Sy kyk op en af en sê toe, “Vir nou gaan ons by die diere leer en elkene sal vir haar ʼn dier gaan uitsoek met wie jy dinge gaan leer. Hoe om boom te klim, hoe om weg te kruip en waar om lekker kossies te gaan soek. Toe weg is julle!” Sannie se koppie dwaal mos en sy hoor weer net die helfte. Die ander feetjies vlieg op om die oulikste diertjies eerste op te eis. Normatjie natuurlik die koala. Terwyl kort op haar hakke Ingridjie, wat met haar armpies om die steenbokkie staan. Die eekhoringkies, koedoetjies en baba leeutjies almal opge-eis en toe Sannie wakker skrik, wat bly oor? Net Borra ... ai toggie net nie dit nie, die lelikste diertjie in die hele woud ... Sannie is no...

ʼn Kissie vol Soentjies

Prent
  Ou Koos is al weer dikbek en kyk van v ê r na Vanwyksvlei. Hy vryf oor sy lang onversorgde spierwit baard. Die dorpie en die ysterklip koppies dans in die hitte, dis al weer aaklige Desember. “Hoe minder ek met die simpel mense te doen het hoe beter, ek HAAT hulle,” dink hy vir die soveelste keer. Hy onthou met bitterheid die politieke struwelinge, die jaloesie oor sy meestersgraad waarmee hy grense van ingenieurswese geskuif het, die skuld wat op hom gepak is na die dam gebreek het, die ondergrawing wat tot Susara se dood gelei het, dat sy kinders dit alles glo en nooit hier kom nie. Ongelukkig moet hy soms daarheen loop om sy pensioen en pos te gaan haal en paar goedjies te koop. Hier in sy modderhuisie is hy op sy gelukkigste, paar skape, die windpomp vir sy water met sy boeke en die kerslig saans. “Dan die simpel dominee, vir wat karring hy so aan my? As hy weer hier kom jaag ek hom weg!”   Koos gaan lê vir sy middagslapie in die kokende warm huis. Hy du...

Liewe Heksie in 2014

Prent
    “Aag ja …,” sug tannie Liewe Heks. Sy tel die jare, al een-en-tagtig van hulle verby toe sy as baba Levinia Liewe Heksie in Blommeland haar eerste skreetjie gegee het. Koning Rosekrans, ou Matewis kat en die Feekoningin is lankal ver weg na die Blommeland Hemel. Sy verlang soveel na hulle. Tannie Levinia Heks staan stadig op en stap rustig om haar huisie. “Miskien moet ek tog gaan kyk wat die nare gifappeltjies weer vandag gaan aanvang. Daai Kerrie en Borrie maak net altyd moeilikheid al loop al twee al met kieries!” Haar getroue ou besem staan regop geparkeer teen die muur. Met moeite klim sy op dit en kan jy dit glo, daar trek hulle! Die windjie waai deur haar kroes lokke en met haar een hand hou sy haar ou punt hoedjie styf vas en kyk na Blommeland ver onder haar. “Haai oo, wat dit is daai?” vra Levina vir haarself, want net so op die grens met Gifappeltjie land is daar ʼn reuse gat in die grond! Levinia daal af en vlieg al om dit, sy probeer inkyk, toe …skielik ...

Sprokie vir ʼn Woudkind

Prent
  “Maar hier moet jy jou nimmer laat bind, want so lui die ou, ou sprokie, my kind. As jy geluk en vreugde wil vind, soek die neonboog se punt, volg hom elke nag langs swart riviere, en kyk nie eenmaal om. Dalk vind jy die land van blou saffiere, dalk net ʼn brokkie son.” Mia sing saggies die mooi liedjie terwyl sy lui voor haar paddastoel huisie sit met haar vlerkies ver uit gestrek. “Wat ʼn mooi dag!” sê sy vir Kasper, die ou gemmer wat spinnend langs haar slaap. Die blaartjies roer skaars en die Smaragrivier maak die mooiste kabbel geluide. “Kasper ek gaan gou by die sewe dwergies kuier en regpak. Die outjies is maar ʼn klomp mans en hul huisie nou so deurmekaar sedert Sneeuwitjie mos die brulpadda gesoen en toe met die mooi prins getroud is.”   Net toe gebeur dit, “Gwaaa!!!” “Wat is dit?” Kasper spring op, sy hare staan regop op sy rug. “Het iets vreesliks gebeur? Daai klank kom dan van Ouma Fiona se huis af!” Kasper ruik in die lug en luister fyn en maau, “Jy...

Ons Kindervriend

Prent
  “Haaaa tsjieshoe !!” hoes Rudolf nou vir die soveelste keer. “Toe nou Rudolf man,” sê Blitsie, “ons moet slaap en jy bly hoes, weet jy hoe vêr moet ons môre vlieg en as ons nie nou slaap nie gaan dit sleg wees.” “Ek kan nie help nie ouens, ek dink ek het griep,” sê Rudolf en hy kyk in die plas water voor hom, “kyk, my neus is bloedrooi van die koors!” “Ou Rudolf die rooineus takbok!” roep ou Komeet en skud die reuse horings op sy kop heen en weer, “nou het ek alles gehoor!” “Wat se lawaai is dit?” die deur gaan oop en Oom Santa stap in, sit lang wit baard nog deurmekaar geslaap, “julle ouens moet rus, ons het ʼn lang pad voor.” “Oom, oom kyk net Rudolf se neus!” gil Blitzie, “Die gloei van die koors, kyk jy kan dit van ver af sien in die nag!” “Rudolf, kom hier dat ek kyk,” sê die oom, “jong, jy is dan vuurwarm van die koors en ek dink nie jy sal kan saam gaan nie.” “Maar oom ... ek het al die jare nog voor getrek, oom asseblief ... !!" “Rudolf, jy is nie meer jo...

Sak Sarel!

Prent
  “Ai tog," sug ou oom Koos, “Hoe moet ek van dag daar kom?” Buite waai wind en dit is baie koud maar dit is pensioen Vrydag en daar is geen ander manier nie. Koos haal sy ou dik jas uit, knoop dit styf om hom vas, neem sy getroue ou kierie. “Mooi bly Kasper!” Kasper kyk op, gee sy gemmer stert paar lekke en kruip in hom self in. Koos strompel die paadjie af na die dorpie toe. Dit is bitter koud. Hoog bo alles is Sarel Son en Wouter Wind al weer aan die baklei, “Ek is tog sterker as jy …!” “Kyk net net daai ou man daaronder, Sarel. Kom ons kyk wie kan sy jas die gouste van hom af kry, toe man!” “Reg !” sê Sarel. “Hou my dop ek gaan sy hele jas van hom af waai. Gee my tien minute en dan kry jy weer tien minute en dan kyk ons wen die keer?” antwoord Wouter. Sarel kruip agter die wolkie weg en kyk wat Wouter gaan aanvang. Wouter trek los en hy waai storm sterk in die pad af! Oom Koos gryp na die lamppaal hou vas van vir wat dit werd is. Wouter stel sy temperatuur ...

En drie maal kraai die haan

Prent
  “Kookerokooo!! ” weergalm dit van die dak af. Roland skrik helder wakker, “Agg neee!” Die ewige Stukka het hom al weer voor gespring. Wat gaan al die ander en veral die mooie Fiona van dit dink? Die haan wat eerste kraai bly maar die ou wat sy gewig rond gooi en Stukka is nou net te erg. Die ander kyk op en Fiona skrop al heerlik met haar drie kuikens om haar, al is dit nog amper pikdonker. Ou Marra skud sy horings, “Mêêê!” Al wat nog vas aan die slaap is, is ou Bontrok. Sy is mos iedergeval te lui en enigiets te doen. Oom Madefu sal seker nou-nou kom met die dag se voer. Wollie blêr, “Waar bly die oom? Ek is nou bleddie honger!” “Ek weet nie my vrou," antwoord Marra. Stukka kom snawel orent en windlawaai by die staldeur in geloop. Hy krap paar keer op die grond en gee vir Roland ʼn lelike kyk, “Ja ou Roland, jy is weer vas aan die slaap jong!” Hy kekkel verder, “Hoe lyk dit Fiona, kom ek en jy gaan skrop bietjie in die veld. Die kuikens kan by Roland bly.” “Reg s...

Katonkie leer vlieg

Prent
  “Ag kom nou Kantokie man, jy is so mooi groot en jy vlieg nou nog nie,” sê mamma, terwyl sy haar lang swart vlerke wyd uitsprei. “Ja! Ek dink ook so, ʼn witkruisarend wat so oud soos jy is moet lankal kan vlieg en help kos soek. Toe ek so oud soos jy was het ons al tot by Aasvoëlkop en terug gevlieg. Ag nee man ...” “Maar pappa en mamma, kyk net hoe hoog is ons nes teen die krans, sê nou ek val teen daardie vreeslike klippe?” “Hoe ook al, wees soet, ons moet gaan kos soek. Sit jou vlerke op jou kop as jy ou Griffa die kransaasvoël sien, onthou hy vang baba arendjies ...”   Katonkie is moedeloos en dink, “Ek is ook niks werd nie ...” Net toe gebeur dit! ʼn Donker skaduwee val op hom en hy skrik, “Dis seker Griffa!” Hy kruip diep in die nes in en hou sy koppie met sy vlerkies toe. “Hallooo, halloo!” hoor hy ʼn stem kwaak. Hy loer versigtig uit en wie is dit? ʼn Pragtige spierwit swaan! Die swaan kom sit op die rand van die nes en Katonkie sit penorent, “Sjoe, ma...

Die Stoute Wolkie

Prent
  Die skool in Durbanville kom daardie Vrydag uit. Grethe groet vir juffrou Joanie en draf uit na mamma Wilmien toe. “Ag nee! Ons wil dan gou see toe gaan en nou reën dit al weer!” Hoog bo hulle lag ou Kosie, die stoute wolkie, te lekker. “Kyk net al die kinders is papnat en het môre almal verkoue, lekkerrr!” Hy hang rond en wonder, “Waar sal ek nou gaan moeilikheid maak? ... B loubergstrand natuurlik!” Hy dryf gou oor daar heen, die sonnetjie skyn te lekker en oral lê mense op die sand. Kos ie sluk twee keer en toe gebeur dit, hy gooi ys op hulle! Haelkorreltjies net waar jy kyk en almal hardloop na hul karre toe. Die son gaan onder en Kosie kan nie meer sien wie se dag om voor sleg te maak nie. “Wag ʼn bietjie, daar is mos ʼn nuwe dam gebou, ek gaan in die nag klomp water in dit gooi dat dit gaan breek!” Die volgende op die nuus in al die koerante, “Die Theewaterkloofdam het gebreek, groot skade, wat nou?” So gaan Kosie aan en aan want dis net te lekker om ander se lewe...