Gamtosie se weerwraak





Gamtosie word wakker. “Nou watse lawaai is dit nou weer?”

Hy skud sy koppie, en glo nie wat hy hoor nie. Net ʼn spul bobbejane kan so te kere gaan! Hier by ons dammetjie nogal. Aggenee!!! Dis altyd alles so lekker hier, te klein vir ʼn aaklige krokodil, en groot genoeg vir vissies om mee te speel. Fibius die seekoei kom soms kuier en hy is almal se vriend.

En nou dit!

“Boggom!!” brul dit weer in die verte.

“Ag nee, hulle kom al nader, wat nou?”

Die takke kraak en die bome skud, maar hier kom hulle. Vooraan is oom Adoons, en kort agter hom tannie Keesje met ou Kaas Windvogel langs haar. Hulle loop hande viervoet, en ander weer penorent soos ons eende.

“Wat nou?” dink Gamtosie bang.

Die spul kom staan by die dammetjie, met hul sterte ver agter uit, drink te heerlik. Hulle trap sommer op Gamtosie se slaapplek, ag nee man!

“Sies julle spul bobbejane,” dink die outjie, “ek moet hulle ʼn les leer, maar hoe?”

Al die ander eendjies is weg om kos te gaan haal, en daar is niemand om Gamtosie te help nie.

Kaas, Adoons, Keesje en die ander spul strek hulself uit, en lê sommer net daar en slaap. Snork hard en jaag al die voëltjies weg. Gamtosie wens hy kon ook hoog vlieg en sê by himself, “Dan sal ek stadig oor hul vlieg, en reg bo-op elkeen ʼn groot spierwit tjorts maak!”

Die plan gaan nie werk nie, want sy vlerkie het mos seergekry toe hy sy mamma gehelp het om die nuwe eiers aan te rol. Dokter Signus Swaan sê dit sal nog twee weke neem voor hy weer kan vlieg.

Gamtosie kruip om die mopanieboom weg en krap sy snawel om ʼn idee te kry, “Wag net ʼn bietjie, ek het dit!”

Hy stap vinnig en saggies weg. Hy loop ver en weet presies waarheen, en gaan staan onder die ou groot soetdoringboom en fluister, “Serko! Is jy daar?”

Die takke wip op en af, en gaan julle my glo? Wie spring daar af tot reg voor Gamtosie? Serko, die stoute blouaap!

“Jy moet help, Serko. Adoons en sy spul lê om ons dam. Hulle ruik sleg na maroelas, en jy weet wat dit beteken, né?”

“Stormdronk al weer en doen net niks. Snork net.”

“Waar is ou Juba, jou jagluiperd vriend? Hy kan mos help!” vra Gamtosie.

“Nee, hy het gaan ouers vra in Satara, en sal seker eers oor ʼn week met sy nuwe vrou terug wees.”

“Nou hoe gaan ons hulle weg kry?”

“Wag ʼn bietjie ... ek weet, soos daai mense wat altyd vir ons kom kyk, ek het ook hande!”

Toe die bobbejane almal pens in die lug lê en snork, sluip Serko tussen hulle. Een vir een knoop hy hul sterte aan mekaar vas, die stouterd! Hy klim toe hoog in die boom, so hoog waar niemand hom sal bykom nie. Met ʼn diep stem, nes hy by ou Jabu geleer het, maak hy nes ʼn jagluiperd, "BRULLL"!

Outjies, julle moes gesien het wat toe gebeur! Keesje hol links, en ou Kaas weer regs, terwyl Adoons in sirkels spring.

Weg is die Adoons hulle, en vrede daal neer oor ons seekoeigaatjie. Dankie tog!

 

 

Erkenning aan TO Honniball wat vir ons Adoons hulle gegee het en Wilmien Marren wat kinders vermaak met Gamtosie die eendjie poppie. Die name is uit Honiball se stories gekry en ook van die Latynse name van die diere

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eendjies stap in ʼn ry

Ons Kindervriend

Die vark in die verhaal