Ons Kindervriend
“Haaaa tsjieshoe !!” hoes Rudolf nou vir die soveelste keer.
“Toe
nou Rudolf man,” sê Blitsie, “ons moet slaap en jy bly hoes, weet jy hoe vêr
moet ons môre vlieg en as ons nie nou slaap nie gaan dit sleg wees.”
“Ek
kan nie help nie ouens, ek dink ek het griep,” sê Rudolf en hy kyk in die plas
water voor hom, “kyk, my neus is bloedrooi van die koors!”
“Ou
Rudolf die rooineus takbok!” roep ou Komeet en skud die reuse horings op sy kop
heen en weer, “nou het ek alles gehoor!”
“Wat
se lawaai is dit?” die deur gaan oop en Oom Santa stap in, sit lang wit baard
nog deurmekaar geslaap, “julle ouens moet rus, ons het ʼn lang pad voor.”
“Oom,
oom kyk net Rudolf se neus!” gil Blitzie, “Die gloei van die koors, kyk jy kan
dit van ver af sien in die nag!”
“Rudolf,
kom hier dat ek kyk,” sê die oom, “jong, jy is dan vuurwarm van die koors en ek
dink nie jy sal kan saam gaan nie.”
“Maar
oom ... ek het al die jare nog voor getrek, oom asseblief ... !!"
“Rudolf,
jy is nie meer jonk nie en ek wil nie met jou gesondheid speel nie.”
Rudolf,
laat sak sy kop, die trane loop oor sy harige wange. Hy kyk hoe die oom almal inspan,
hulle lag opgewonde, die slee is oorlaai met die mooiste geskenke en hy moet
nou in die stal agterbly. Om oud te word is so swaar ...
Die
slee trek weg en almal sing, “Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer.
Skenk ons ʼn helder Somerkersfees ...”
Oom
Santa se baard wuif in die wind. Skielik is dit doodstil, net Rudolf bly alleen
oor met sy gedagtes en herinnerings van die miljoene kindertjies wie se
hartjies hy kon bly maak. Hy gaan staan op sy knieë en kyk op en toe hoor hy
vir laas, “Heer gebore vir ons!”
Hoog
bo hom vlieg die engeltjies, spierwit klere en hulle draai in sirkels om hom
terwyl Rudolf se gedagtes vervaag, hy hoor en sien nie meer nie. Stadig rol hy
om en gaan lê. Hy gee ʼn laaste diep sug, terwyl die engeltjies by hom sit en sy
voete vashou terwyl hulle saggies oor sy kop en horings streel.
Liewe maatjies, vra vir
pappa dat hy jou om middernag Kersfees na die stoep te neem. Laat hy vir jou
die Suiderkruis wys. Kyk stip en lank daarna en ek belowe jou ʼn klein rooi
sterrietjie sal reg in die middel skyn ... dis die grootste kindervriend,
Rudolf die rooineus takbokkie ...
Name is aangepas soos deur die eeue oue gebruik en die
storie gebou op die ou liedjie van Bing Cosby. Liriek van Koos du Plessis
gebruik.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking