Liewe Heksie in 2014

 


 “Aag ja …,” sug tannie Liewe Heks. Sy tel die jare, al een-en-tagtig van hulle verby toe sy as baba Levinia Liewe Heksie in Blommeland haar eerste skreetjie gegee het. Koning Rosekrans, ou Matewis kat en die Feekoningin is lankal ver weg na die Blommeland Hemel. Sy verlang soveel na hulle.

Tannie Levinia Heks staan stadig op en stap rustig om haar huisie. “Miskien moet ek tog gaan kyk wat die nare gifappeltjies weer vandag gaan aanvang. Daai Kerrie en Borrie maak net altyd moeilikheid al loop al twee al met kieries!”

Haar getroue ou besem staan regop geparkeer teen die muur. Met moeite klim sy op dit en kan jy dit glo, daar trek hulle! Die windjie waai deur haar kroes lokke en met haar een hand hou sy haar ou punt hoedjie styf vas en kyk na Blommeland ver onder haar.

“Haai oo, wat dit is daai?” vra Levina vir haarself, want net so op die grens met Gifappeltjie land is daar ʼn reuse gat in die grond!

Levinia daal af en vlieg al om dit, sy probeer inkyk, toe …skielik val sy soos ʼn baksteen in die gat in! Maatjies wat dan nou?

“Wat gaan nou gebeur?” vra jy seker. Is dit die nare ou Geel Heks wat dit gedoen het? Oo, nee, laat ek nou vir jou verder vertel, tannie Levina Heks val en val en val. Sy knyp haar ogies toe van bangheid. Die besem is lankal uit haar hande geruk.

“Wat nou?“ vra sy nou baie bang, voor haar daar is ʼn pragtige plek, helder ligte, rose en proteas wat blom en water wat loop.

 

Koning Rosekrans, ou Matewis Kat en die Feekoningin en al haar ou maatjies staan en lag vir haar. Kwaatjie Kabouter lag van oor tot oor en die koning buig diep voor haar, “Levinia Heks, welkom in die Blommeland Hemel!”

 

Die tyd gaan verby en hier in die Hemel is dit net te lekker. Geen nare Gifappels en die heerlikste eetgoed. Almal is vriende en Koning Rosekrans (sy regte naam is mos ou Riaan Kruiwa-stoter!) kuier van die oggend tot die aand by almal en gooi natuurlik weer sy flikkers met die Feekoningin. Ai tog!

Blommie Kabouter is weer die grapkassie en almal lag te lekker vir sy stoutighede.

 

Maar toe gebeur iets, Koning Rosekrans en die Feekoningin het ophou om te lag ... Heksie vra toe, “U majesteite, hoekom lag julle dan nie meer nie?”

“Liewe Levinia, iets slegs is aan die gebeur, maar ons sal julle vertel so gou ons meer weet.

 

Toe daardie dag, dit was ʼn Donderdag, en toe kom Saartjie die rapportfeetjie aangevlieg, “Tannie Levinia, die koning vra dat ons almal dadelik na die paleis moet kom! Sal tannie asseblief vir Matewis en Blommie ook laat weet. Die koning wil dat ons gou daar moet wees, so sal tannie vinnig met die besem ry en hulle twee ook oplaai?”

“Ek maak so Saartjie!”

Levina gaan haal haar besem, trek haar mooi aan. “Blommieeee! Matewissieee? Waars julle?”

Die twee stouterts kom aan gehol en spring agter Levinia op die besem en daar trek hulle! Hulle maau en lag al die pad, maar Heksie bly stil ... sy weet net iets vreesliks het gebeur.

 

Koning Rosekrans maak keel skoon, "liewe Blommeland engeltjies. Welkom hier by die Blommelandhemel se beraad.”

Hy bly lank stil, hy kyk na sy voete … “Ek het vandag slegte nuus. Ons is laat weet deur my vriend, daai Cruywagen ou …”

Die koning sluk swaar en diep en sukkel om te praat. Die Feekoningin stap vorentoe, “Liewe maatjies, ons het gehoor dat Tannie Verna baie siek is en dit so sleg met haar gaan. Ons het toe besluit om die rapportfeetjie te stuur om vir haar blomme te neem. Julle weet dat regte mense ons mos nooit mag sien nie, so sy sal in die middel van die nag gaan. Iemand wat vinnig kan vlieg moet saam gaan om te help dra …”

Die koning kyk op, hy kyk na net een en almal se ogies draai … “Levinia, ek en die koningin het besluit dat jy sal saam gaan ... ”

 

Daardie nag het die mooiste ding ooit gebeur … want toe tannie Verna daardie Vrydagoggend wakker word, was die heel laaste ding wat sy ooit gesien het ... ʼn bos Blommeland se Hemelse Proteas …

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eendjies stap in ʼn ry

Ons Kindervriend

Die vark in die verhaal