Die Stoute Wolkie
Die skool in Durbanville kom daardie Vrydag uit. Grethe groet vir juffrou Joanie en draf uit na mamma Wilmien toe. “Ag nee! Ons wil dan gou see toe gaan en nou reën dit al weer!”
Hoog bo hulle lag ou
Kosie, die stoute wolkie, te lekker. “Kyk net al die kinders is papnat en het
môre almal verkoue, lekkerrr!”
Hy hang rond en wonder,
“Waar sal ek nou gaan moeilikheid maak? ... Bloubergstrand natuurlik!”
Hy dryf gou oor daar
heen, die sonnetjie skyn te lekker en oral lê mense op die sand. Kosie sluk
twee keer en toe gebeur dit, hy gooi ys op hulle! Haelkorreltjies net waar jy kyk
en almal hardloop na hul karre toe.
Die son gaan onder en
Kosie kan nie meer sien wie se dag om voor sleg te maak nie. “Wag ʼn bietjie,
daar is mos ʼn nuwe dam gebou, ek gaan in die nag klomp water in dit gooi dat
dit gaan breek!”
Die volgende op die nuus
in al die koerante, “Die Theewaterkloofdam het gebreek, groot skade, wat nou?”
So gaan Kosie aan en aan
want dis net te lekker om ander se lewens sleg te maak. Hy dryf verder en
verder van die see af, tot by ʼn groot plat stuk grond. Dis bruin en lelik.
“Wat kan ek nou hier doen
om dit sleg te maak?” dink die ou.
“Aaaak!” hoor hy.
“Wie is dit?” Dis Korvie
die witborskraai ... ag nee!
Maatjies as jy nou gedink
het Kosie is ʼn slegte outjie, moet jy Korvie sien. Kraaie is mos al diere wat
alle tale kan praat, so hy vlieg rond, luister en vertel jok stories so ver hy
vlieg.
Dan moet jy sy nes sien.
Sommer so op ʼn paal vol blikke en papiere ander lelike goed. Korvie sit net
daar en doen niks. ʼn Slegte outjie ...
"Wie woon hier
onder?” vra Kosie.
"Dis daai ou oom
Sybrandt. Ek hou niks van hom nie want hy kyk net heeldag na sy koeie.”
“Koeie?” vra Kosie.
“Ja! Die ene se naam is
Bontrok en haar man se naam is Rommel. Lelike goed met sulke aaklige horings.
Ek wens jy wil hulle bietjie skrik maak.”
“Reg!” sê Kosie, en hy
sak laer en laer. Hy sien die oom heen en weer loop. Bontrok en Rommel is net
vel en been en die arme hoenders krap in die grond vir ʼn laaste kossie.
Net toe hulle dit die
minste verwag, gooi Kosie die hele plaas vol ys! Toe maak hy sy stem dik en sê,
“DONNNEERRR!!!”
Hy stuur een lang
weerligstraal wat die oom se windpomp stukkend slaan. Toe laat los hy alles wat
hy het en dis net water waar jy kyk, “Swem koeie, swem!”
Hy styg op, maak ʼn plekkie
vir die son om deur te skyn sodat hy lekker kan lag.
Maar ... almal is op die
werf, almal hardloop in sirkels, die hoenders, die koeie, die verskalfies en
bulkalfies. Hulle lyk te vrolik. Net Kerneels die gemmerkat en Klara die
patryshond slaap nog in die huis.
Die hane kraai en oom
Sybrandt staan op sy kniee, sy oë is toe en met sy hande voor sy bors kyk hy op
en praat ...
Van daardie dag af is Kosie anders. Hy gooi ys op
die berge sodat mense en diere kan bad en drink in die somer, hy gee sagte reën
op die koringlande en op die bossies waar die skapies wei. Kosie is ʼn ander
wolk!
“Hoekom?” vra jy nou.
Wel, daardie dag kon
Kosie oom Sybrandt se woorde hoor ...
“Liewe Jesus, dankie, dankie, dankie! Dankie vir die bulkalfie wat Bontrok gekry het, dankie vir al my mooi diere vriende en Here, dankie dat u ons plaas gered het ... dankie vir die eerste somerreën!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking