ʼn Kissie vol Soentjies
Ou Koos is al weer dikbek en kyk van vêr na Vanwyksvlei. Hy vryf oor sy lang onversorgde spierwit baard. Die dorpie en die ysterklip koppies dans in die hitte, dis al weer aaklige Desember.
“Hoe minder ek met
die simpel mense te doen het hoe beter, ek HAAT hulle,” dink hy vir die
soveelste keer.
Hy onthou met
bitterheid die politieke struwelinge, die jaloesie oor sy meestersgraad waarmee
hy grense van ingenieurswese geskuif het, die skuld wat op hom gepak is na die
dam gebreek het, die ondergrawing wat tot Susara se dood gelei het, dat sy
kinders dit alles glo en nooit hier kom nie.
Ongelukkig moet hy
soms daarheen loop om sy pensioen en pos te gaan haal en paar goedjies te koop.
Hier in sy
modderhuisie is hy op sy gelukkigste, paar skape, die windpomp vir sy water met
sy boeke en die kerslig saans.
“Dan die simpel
dominee, vir wat karring hy so aan my? As hy weer hier kom jaag ek hom weg!”
Koos gaan lê vir sy middagslapie in
die kokende warm huis. Hy dut net in toe is daar ʼn klop aan sy deur. “Ag nee
wat nou!”
Hy pluk die deur
oop. Voor hom staan Annemarietjie, die dominee se blonde dogtertjie. “Ja, wats
dit nou?”
“Oom, ek en my
maatjies wil vir oom iets kom vra?” sê die voor-op-die-wa dogtertjie. By haar
is Sarie en Annetjie.
“Ek het niks met
julle te doen nie, gaan weg!”
“Oom asseblief, en
ons het vir oom ʼn geskenkie gebring,” sy hou ʼn mooi pakkie uit met ʼn rooi
strikkie en ʼn briefie op. Die dogtertjies draai stadig om en stap die paadjie
af terug na die dorpie toe.
Koos word
doodstil, die pakkie weeg amper niks. Stadig maak hy dit oop. Hy lig die deksel
op. Binne in niks ... hy lees teensinnig die briefie.
“Liewe oom Koos,
Die geskenkie is net vir oom. Oom moet
weet ons kindertjies is vir oom so jammer en bid elke dag net vir oom.
Kyk mooi in die kissie, oom sal sien dit
is stampvol, ek en Sarie en Annetjie het vir twee ure lank ons soentjies hier
in geblaas net vir oom. Ons is so lief vir oom.
En oom, oom is mos die heel mooiste man in
ons dorp, sal oom dit vir ons kom doen asseblief?
Sien dit gaan so werk ...”
Dis ou Kersaand, die kerksaaltjie is
vol mense. Hulle sing, “voor u ryk moet die duisternis swig, tot in ewigheid
bly U die lig, Heer, gebore vir ons!”
Op die verhoog is
daar ʼn groot stoel, omring deur veelkleurige pakkies, sy lang wit baard hang
oor sy rooi baadjie en al die kindertjies lag met hom en raak aan hom.
Hy lag vir die
eerste keer in baie jare, trane van vergewing en versoening drup op sy helder
rooi broek ...
Geinspireer die die kersverhaal van Fred Burks, The Gold Wrapping Paper. Erkenning aan Koos du Plessis.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking