Sprokie vir ʼn Woudkind

 


“Maar hier moet jy jou nimmer laat bind, want so lui die ou, ou sprokie, my kind. As jy geluk en vreugde wil vind, soek die neonboog se punt, volg hom elke nag langs swart riviere, en kyk nie eenmaal om. Dalk vind jy die land van blou saffiere, dalk net ʼn brokkie son.”

Mia sing saggies die mooi liedjie terwyl sy lui voor haar paddastoel huisie sit met haar vlerkies ver uit gestrek.

“Wat ʼn mooi dag!” sê sy vir Kasper, die ou gemmer wat spinnend langs haar slaap.

Die blaartjies roer skaars en die Smaragrivier maak die mooiste kabbel geluide. “Kasper ek gaan gou by die sewe dwergies kuier en regpak. Die outjies is maar ʼn klomp mans en hul huisie nou so deurmekaar sedert Sneeuwitjie mos die brulpadda gesoen en toe met die mooi prins getroud is.”

 

Net toe gebeur dit, “Gwaaa!!!”

“Wat is dit?” Kasper spring op, sy hare staan regop op sy rug. “Het iets vreesliks gebeur? Daai klank kom dan van Ouma Fiona se huis af!”

Kasper ruik in die lug en luister fyn en maau, “Jy moet gou maak, ek dink daar is groot fout by Ouma”

Mia rek haar vlerkies en begin hardloop op die aanloopbaan om op te styg, maar oo wee, sy val oor haar eie voetjies! Hoekom maatjies, hoekom juis nou?

Nou weet ons, net agter die ou groot akkerboom steek daai pikswart hoed uit en Korvu die swart kraai gil, “AAAK!”

“Philandria?” roep Mia verskrik. “Die opperheks! Sy het vir ouma dood gemaak, ek weet sommer. Kasper wat nou? Gaan sy en Korvu ons ook dood maak?”

“Ha! Nou het ek julle!” Philandria ry stadig nader op haar besemstok terwyl haar lang swart kleed agter haar aansleep. Haar punt hoed met die geel sterre wieg heen en weer ...

“Aaak! Aaak!” gil Korvu terwyl hy in sirkels vlieg.

“Mia, jou dom ouma, toe sy Feekoningin was, het my mos verban uit Feetjieland, wel nou is sy gevang en sal stadig, baie stadig, van honger dood gaan! Ha! Ha! Ha!”

Sy kyk lank na Mia en Kasper. “Julle twee sal darem heerlik in my groot pot kook vir Sondag se kuier saam met die hele hekse familie. Lekkerrr!!!”

Mia snik en begin bitterlik huil, “Ouma! Ouma!”

Sy bewe van banggeit. Maatjies wat dan nou? Maak liewer jou ogies toe wat iets vreesliks gaan nou gebeur ...

Philandria steek haar lang dik arm uit, sy gryp vir Mia, “Het jou!”

Sy stap stadig die paadjie op en sleep vir Mia saam. Mia skop en huil en Philandria sing heerlik, “Feetjies, feetjies almal in ʼn ry, ek gaan bak en brou en julle almal kom kry!”

Net toe gebeur dit toe jy dit die minste verwag en alles daarmee heen is. Reg voor hulle in die paadjie staan ʼn leeu! “BRULLLLL!”

“Maar dis dan Kasper en hy is nou so groot soos ʼn leeu?” snik Mia.

“Philandria, los daai kind of ek vreet jou lewendig op!” brul hy.

Philandria laat val vir Mia, gryp na die besem, Korvu skree benoud en hulle hardloop weg na Hekseland! Net toe hulle dink hulle kan weg kom toe hardloop Kasper hulle in en met een groot klap slaan hy vir Philandria dat sy pens en pootjies in die Smaragrivier val!

 

Mia maak stadig haar ogies oop, onder teen haar been skuur haar liefling katjie. Hy maau saggies, “Ek is lief vir jou Mia, niemand sal jou seermaak nie ... en onthou altyd, jy doen alles vir die wat jy lief het ...”

 

Erkenning aan Koos du Plessis se Sprokie vir ʼn Stadskind.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eendjies stap in ʼn ry

Ons Kindervriend

Die vark in die verhaal